"Ek's net 'n toeris in my geboorteland"

Ek en my vrou het onlangs in Mauritius gaan vakansie hou.  Ons kennis (en verwagting) het nie veel verder as cocktails op eksotiese strande gestrek nie. Daar geland moet ons eers 45min vanaf die lughawe na die hotel reis, en in dié tyd probeer ons onsself deur middel van die landskap en argitektuur oriënteer. Laasgenoemde getuig van die land se koloniale Nederlandse, en veral Franse, verlede, alhoewel baie van die geboue my ook aan my verblyf in Suid-Korea laat dink. Ons sien 'n kerk, een of twee moskees en heelwat Hindu-tempels.  Die natuurlike omgewing herinner so bietjie aan KwaZulu-Natal, aangesien beide op die verbouing van suikerriet geskoei is.

Panoramiese uitsig oor Mauritius. Foto via Wikipedia.

Panoramiese uitsig oor Mauritius. Foto via Wikipedia.

Maar ek voel 'n nog groter ooreenkoms tussen Mauritius en Suid-Afrika aan. Meeste van die bevolking blyk van Indiese afkoms te wees (Indo-Mauritians van Indië en Creoles van Afrika vind ek later via Wikipedia uit), met Asiese verteenwoordigers en spatsels Europese bleekheid (hoofsaaklik Frans, en dan bietjie Brits en Suid-Afrikaans).*  Dit is dus, soos my tuisland, 'n redelik etnies diverse samelewing.

Hierdie veelkleurige sosiale samestelling sorg ook vir diversiteit wat die land se tale en godsdiensbeoefening aanbetref. Beide Engels en Frans word as amptelike tale beskou, en weens die aanbieding hiervan op skool is alle Mauritiane bevoeg hierin.  Ek het eers gedink dat die hotelpersoneel in goeie skole was, maar later besef dat selfs die agterstraatverkopers Engels vlot – en bekkig – kan praat.

Die land se lingua franca is egter 'n Frans-gebaseerde kreool (wat op skool as byvak geneem kan word) en word veral in meer informele kontekste gebruik. Alhoewel dié eilandstaat amptelik sekulêr is, lyk die religieuse sensus as volg: Hindu 48.5%, Katoliek en Christen 32.7%, Islam 17.3% en Buddhis 0.4%. Alhoewel ek toeris is, voel ek myself dus heel tuis in hierdie Reënboognasie in die kleine.

'n Optog tydens 'n Hindu-fees in Mauritius. Foto via Wikipedia.

'n Optog tydens 'n Hindu-fees in Mauritius. Foto via Wikipedia.

Terug in Suid-Afrika het ek en vroulief die voorreg om nog 'n week vakansie te hou (dis ons wittebrood, okei). Ons gaan vir 'n week Laeveld toe om die eksotiese strande met inheemse bosveld uit te balanseer.  Daar is 'n groot ooreenkoms tussen Mauritius en die Laeveld – beide is bestemmings wat grootliks op toerisme toegespits is. Soos in Mauritius praat die mense hier, ook selfs die handelaars met padstalletjies, goed Engels. Met inagname van die feit dat 90% van die toeriste hier Franse, Britte of Duitsers is, besef ek egter dis nie vir mý onthalwe nie.

Nog lekker aan't honeymoon word ek bewus van 'n groeiende gevoel van ongemak – meer spesifiek skuldgevoel. Eers dink ek dis miskien 'n Calvinistiese weersin in die feit dat ek al vir byna twee weke nie 'n steek werk gedoen, of selfs aan werk gedink, het nie. Ek vergeet daarvan.

Die volgende dag gaan ek en my beter helfte 'n canopy tour doen. Ons gesels lekker en maak grappies met ons twee begeleiers, Noma en Vuyani (alles in Engels natuurlik). Na afloop van die roete stap ons na 'n stuk veld waar die bakkie ons sal optel om terug te neem dorp toe. In die stuk veld is 'n groep van ongeveer twintig munisipale werkers besig om indringerspesies te ontbos. Dis middagete en almal sit rond, eet, rook, gesels en lag. Ons (dis nou ek en my vrou) glimlag half verleë – soos wat ek vermoed meeste wit Afrikaanssprekendes doen wanneer hulle hulself in 'n meerderheid swart medeburgers bevind – en "Hello, hello" almal. Die groep is vriendelik, maar miskien ewe verleë (vir ons onthalwe), en "Hello, hello" terug. Vuyani trek los en begin met die werkers gesels asof hy hulle al jare ken (ek bevestig later op pad huis toe dat hy dié mense nog nooit gesien het nie).

Daardie aand om die braaivleisvuur kan ek uiteindelik die ongemak verwoord wat ek sedert dié ontmoeting ervaar het. Ek kan nie ontken dat ek ongemaklik in daardie groep mense was nie, vir twee redes: 1) Hulle het na my gekyk, en met my gepraat, asof ek 'n toeris is. In hulle oë was ek miskien Brit of Amerikaner of dergelike Westenaar. 2) Hulle is 110% reg hierin, want ek ís 'n toeris in my geboorteland.

Op die einde van die dag besef ek my ongemak, nog voor die dag se gebeurtenisse, spruit wel uit die feit dat ek slapgat is, maar dan nie oor ek so hard vakansie hou nie. Feit van die saak is dat ek al báie lank in hierdie land vakansie hou. Ek het nie in 'n rassistiese huis grootgeword nie. Ek is grootgemaak met die opdrag dat almal gelyk is, ongeag geslag, etniese herkoms, taal, seksuele oriëntasie, noem maar op. In 1994 was ek 9 jaar oud, so toe ek begin verstand kry het was apartheid reeds afgeskaf.

Tog moet ek vandag aan myself erken dat ek ongeag my "reine waardes" en "goeie bedoelings" nog nooit 'n vinger gelig het om beter te kan inskakel in hierdie wonderlike kulturele en etniese poespas van 'n land waarin ek woon nie.  En, denkend aan Mauritius besef ek dat die oplossing so eenvoudig is – taal. Die Mauritiane kom so goed oor die weg, want almal kan mekaar regtig verstaan. Almal, ongeag herkoms of geloofsoortuiging, praat mekaar se hartstaal. Toegestaan, in Suid-Afrika is dit effens moeiliker, aangesien ons land fisies 598x groter as die eiland is, en bietjie meer mense en tale het, maar die beginsel geld steeds.

Verstaan mooi, ek sê nie almal moet Engels praat en sodoende oor en weer kan kommunikeer nie – dit doen ons reeds. Ons (en met ons bedoel ek hoofsaaklik enige iemand wat nét Afrikaans en/of Engels kan praat) moet elkeen ten minste 'n inheemse taal leer sodat jy die plaaslike mense in watter omgewing jy jouself ook mag bevind kan verstáán. In die proses kan jy ook jouself, jou eie bevolkingsgroep en jou eie taal beter begryp. John Searle het gesê "You can never understand one language until you understand at least two". En alhoewel ons almal Engels as tweede taal het, is ek skepties of dit nie té naby aan die huis is om te geld vir wat met hierdie aanhaling bedoel word nie: klinkklare besef van en begrip vir anders praat, wat ook anders dink en anders wéés impliseer.

Die voordele van 'n Afrika-taal, behalwe Afrikaans, leer is legio. Dit sal my ego streel dat ek nie meer soos 'n Fokofpolisiekar-treffer hoef te voel nie. Dit is miskien dié beste manier om werklike nasiebou te bevorder, want vir 'n Afrikaanse ou en 'n Xhosa persoon om in Engels oor enigiets te praat of te onderhandel is uiteindelik nadelig vir beide – ons moet nie kommunikeer nie, ons moet verstaan. As tekswerker het ek 'n meer dinamiese en buigsame beskouing van taal, en die ontwikkeling en moontlike uitsterf van so iets. Maar jy, taalstryder, ''Afrikaner", taalbul, dink net watter saak jy vir jouself en jou taal sal uitmaak as jy dit in Zoeloe, Xhosa, Setswana of Sesotho kan doen?

Moet nie die praktiese probleme of beleidsbemoeiliking van wat ek hier voorstel as verskoning opper nie. Gaan leer 'n Afrika-taal (anders as Afrikaans), wy jou daaraan toe en kom sê my oor 'n jaar of twee dat jy nie 'n beter Suid-Afrikaner én Afrikaner is nie, dat dit geen positiewe verskil in jou lewe gemaak het nie.

Gerdus Senekal

* Hierdie etniese statistieke is nie amptelike nie; ras-verwante vrae is in 1972 uit die Mauritiaanse sensus verwyder.